Bisdom Oudtshoorn verwelkom hulle nuwe herder
Op Saterdag 17 Julie is die hoogeerwaarde Francisco Fortunato de Gouveia tot die vierde Katolieke biskop van Oudtshoorn, sedert die oprigting van die bisdom Oudtshoorn op 11 Januarie 1951 deur die Heilige Stoel, gewy. As gevolg van die groot getalle mense wat die wyding bygewoon het, was die katedraal van Oudtshoorn te klein en is die seremonie in die De Jager Sportsentrum gehou. Biskop de Gouveia volg biskop Edward Adams op wat 27 jaar lank aan die stuur van dié uitgestrekte bisdom (die tweede grootste in Suid-Afrika) gestaan het. Katolieke glo dat ’n biskop (van die Griekse woord episkopos wat opsiener of toesighouer beteken) ’n direkte opvolger van die Here Jesus Christus se Twaalf Apostels is. Daarom is die wyding van ’n biskop ’n grootse en luisterryke geleentheid. Die verrigtinge het in drie stappe geskied; Vrydagaand het die aangewese-biskop tydens 'n plegtige Aandgebedsdiens (vespers) die Eed van Getrouheid in die teenwoordigheid van talle biskoppe, priesters, religieuse en gelowiges afgelê en terseldertyd is die simbole van die biskopamp, die miter, ring en herderstaf geseën. Saterdagoggend het die wydingseremonie plaasgevind. Die Metropoliet, aartsbiskop Stephen Brislin van Kaapstad, was die hoofkonsekrator van die nuwe biskop en hy is bygestaan deur aartsbiskop James Green JCD, die Apostoliese Nuncio vir Suider-Afrika (die pouslike gesant) en biskop-emeritus Edward Adams van Oudtshoorn. Die homilie is gelewer deur aartsbiskop Bhuti Thlagale OMI, aartsbiskop van Johannesburg en president van die Suider-Afrikaanse Katolieke Biskoppe Konferensie. Elf ander biskoppe en die kardinaal-aartsbiskop van Durban, Wilfred Napier OFM, was ook aangewesig. Benewens al die priesters en diakens van die bisdom Oudtshoorn het meer as 40 priesters van ander plekke ook die viering bygewoon. Die derde stap het op Sondagoggend te St. Salvator Katedraal plaasgevind toe die nuut gewyde biskop amptelik sy Katedraalkerk betreë het om die Heilige Mis vir die eerste keer in die Bisdom as biskop te vier. Die biskop het stiptelik om nege uur nege keer, drie maal drie keer met verwysing na die Heilige Drie-eenheid, met 'n silwer hammer aan die hoofdeur van die katedraal geklop om sodoende toegang tot sy katedraal te versoek. Binne die katedraal het ongeveer 700 gelowiges en die Plebaan die biskop in stilte afgewag en na die geklop aan die katedraal deure deur die katedraal weergalm het, is die gegrendelde deure ontsluit en stadig oopgemaak om die biskop in te laat.
Die nuwe biskop is ’n boorling van Kaapstad en was tot onlangs parogiepriester in Vishoek. Die groot aantal mense van sy voormalige parogieë wat die moeite gedoen het om na Oudtshoorn te reis, getuig van sy persoonlike gewildheid en die waardering wat daar vir hom as Kerklike bedienaar en Godsman bestaan. Die Wydingsmis is deur meer as tweeduisend mense bygewoon. Onder die hoogwaardigheidsbekleërs was die Portugese ambassadeur en sy gade, asook die burgemeesteres van Oudtshoorn, raadslid Diane de Jager.
Daar is met groot waardering teruggekyk op die bekwame leiding van biskop Edward Adams,wat soveel jare lank en dikwels onder moeilike omstandighede ’n ware herder vir die Katolieke gemeenskap van Oudtshoorn was. Biskop Adams sal waarlik gemis word. Biskop Frank het onmiddellik ’n goeie indruk gemaak, veral dit ook duidelik word dat hy hom goed in Afrikaans kan uitdruk. Die Katolieke geloofsgemeenskap betuig hul dank teenoor die Almagtige God vir hul nuwe herder en verwelkom ’n man wat homself al terdeë bewys het as ’n draer van Christus se liefde in hul midde. (Alle fotos met vergunning van Metanoia Ministries © - en direk vanaf hul beskikbaar)
|