Wapenskild | Biskop Francisco Fortunato de Gouveia



Biskop de Gouveia se persoonlike wapenskild

Diocese of Oudtshoorn
Bisdom Oudtshoorn

Patron: The Immaculate Heart of Mary
Patroon: Die Onbevlekte Hart van Maria

Suffragan Diocese of the Province of Cape Town - Republic of South Africa
SuffraWagane Bisdom van die Provinsie Kaapstad - Republiek van Suid-Afrika

UITLEG van sy Eksellensie Hoogeerwaarde Biskop Francisco Fortunato de Gouveia, D.D., Biskop van Oudtshoorn se wapenskild.

1. DIE BISKOPSHOED, TOSSELS EN PROSESSIE-KRUIS dui op die amp van die Biskop

2. DIE VIS is van die vroegste tye af gebruik as ‘n simbool vir die Christelike geloof. Die Griekse woord vir ‘vis’ is ‘ichthus’, ‘n akroniem vir die belydenis van die geloof: I=Jesus, CH=Christus, TH=van God, U=Seun, S=Redder. Die katedraalkerk van die Bisdom Oudtshoorn is toegewy aan die Heilige Verlosser (Sint Salvator). Die vis verskyn ook op die skild van Ponta do Pargo, Madeira, Portugal, die dorp waar die Biskop se ouers en voorouers geslagte lank gewoon het. As immigrante in Kaapstad het hulle as vishandelaars gewerk.

3. DIE AALWYN verteenwoordig Oudtshoorn en is deur die Bisdom gebruik as ‘n simbool van die "Renew"-proses. Dit is ‘n geharde plant wat goed aard in dor omstandighede en in die winter blom. Die genesende eienskappe van hierdie plant word al lank erken deur die inwoners van hierdie streek. Deur onderrig, heiligmaking en leiding is die Biskop as hoofherder van die Bisdom geroep om genesing, heelheid en eenheid te bring aan hierdie plaaslike Kerk.

4. DIE MANTELSKULP is die simbool van ‘n pelgrim, ‘n herinnering dat “hier het ons nie ‘n ewige stad nie maar soek na die stad wat bo is” (Hebreërs 13:14). Die nuwe Biskop het al vyf keer die beroemde bedevaartsweg van Santiago (Sint Jakobus) gestap. Volgens oorlewering het die apostel Jakobus die Evangelie in Spanje en Portugal verkondig. Hy word as Biskop, opvolger van die apostels, gewy in hierdie jaar 2010. Dit is ‘n heilige jaar in die pelgrimsoord Santiago de Compostela en sy wyding geskied gedurende die pousskap van Benedictus XVI wat ook ‘n mantelskulp op sy skild het. Die mantelskulp word dikwels gebruik om die sakrament van Doop toe te dien en dui die eenheid van geloof aan wat ons deel. Die vorm en lyne van die skulp weerspieël die feit dat hoewel ons uit verskillende plekke kom en verskillende paaie volg, ons Een doel het: Om met God te wees, nou en tot in alle ewigheid.

5. Die samestelling van hierdie simbole is ‘n oproep aan almal van ons in hierdie plaaslike Kerk – vanaf die uitgestrektheid van die Klein en Groot Karoo tot die Tuin Roete – om Een te wees, sodat die wêreld mag glo.

6. Die persoonlike leuse van Biskop de Gouveia wat op die krullys onder die skild verskyn is “UNUM UT MUNDUS CREDAT”, geneem uit Jesus se priesterlike gebed in Johannes 17:21: “Dat almal een mag wees sodat die wêreld kan glo”.


terug na bo | back to the top terug na tuisblad | back to home page