xanax
buy tramadol
buy tramadol
buy cheap tramadol
cheap tramadol
tramadol online
PDF Print E-mail

POUS BENEDICTUS XVI SE VASTYDBOODSKAP VIR 2010

“God se geregtigheid is deur die geloof in Jesus Christus openbaar” (vgl. Rom. 3: 21-21)

Geliefde broeders en susters,

Elke jaar aan die begin van die Vastyd nooi die Kerk ons uit tot ’n eerlike ondersoek van ons lewe in die lig van dit wat die Evangelie ons leer. Hierdie jaar wil ek graag ’n paar oordenkings aan u bied oor die uitgebreide tema van geregtigheid. As uitgangspunt neem ek die woorde van Paulus: “Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God, deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo...” (Rom. 3: 21-22, OV).

Geregtigheid: “dare culque suum

Om te begin wil ek stilstaan by die betekenis van die woord ‘geregtigheid’, wat in die gewone taalgebruik wil sê “om aan elkeen te gee wat hom toekom”, volgens die beroemde uitspraak van Ulpianus, ’n Romeinse regsgeleerde uit die derde eeu. Hierdie bekende definisie maak dit egter nie presies duidelik wat die ‘suum’ (dit wat syne is), dit wat elkeen toekom, nou eintlik inhou nie. Met ander woorde, dit wat ‘n mens die meeste nodig het, kan nie deur die wet aan hom gewaarborg word nie. Om die lewe ten volle te kan beleef, verg iets wat nog intiemer en persoonliker is – iets wat net as gawe ontvang en beleef kan word. Dit wat die mens die nodigste het, is om van die liefde te leef wat God alleen aan hom kan gee, God wat die mens na sy eie beeld en gelykenis geskape het. Natuurlik is materiële dinge nuttig en selfs noodsaaklik. Jesus het self ook mense genees en die skares wat Hom gevolg het van voedsel voorsien. ’n Mens kan nie onverskillig staan teenoor noodsaaklike materiële dinge nie. Vandag sterf daar nog steeds honderde miljoene mense deur gebrek aan voedsel, water en medisyne. Dit is onaanvaarbaar. Maar tog voorsien ‘distributiewe’ regverdigheid (die gelyke en regverdige verdeling van goed) nie in alles wat die mens eintlik toekom nie. Die mens het ‘n wesenlike behoefte aan ’n lewe wat vanuit God geleef word, want dit wat die mens eintlik toekom behels oneindig meer as brood alleen. Sint Augustinus het dit so verwoord: “As geregtigheid die deug is waarvolgens elkeen wat het daarvan met ’n ander deel..., waar is die geregtigheid dan van die mens wat hom van die ware God afkeer?” (De civitate Dei, XIX, 21).

Wat is die oorsaak van onreg?

Van die Evangelis Markus kry ons die volgende woorde, wat Jesus destyds gespreek het in die konteks van die debat oor wat rein en onrein is: “Niks wat van buite af in ’n mens ingaan kan hom onrein maak nie; maar die dinge wat uit ’n mens uitkom, dit maak hom onrein..., wat van binne af uit ’n mens kom, dit maak ’n mens onrein. Van binne af, uit die hart van die mens kom die slegte gedagtes...” (Mark. 7: 14-15. 20-21). Afgesien van die direkte vraag oor die voedsel kan ons in die reaksie van die Fariseërs ’n konstante versoeking van die mens ontdek, naamlik, om die oorsaak van die kwaad buite jouself te soek. Wanneer ’n mens baie van die moderne ideologieë van nader bekyk, besef jy dat hulle juis van hierdie veronderstelling uitgaan – omdat die onreg ‘van buite af kom’, is dit maar voldoende om die eksterne oorsake wat in die pad van geregtigheid staan uit te skakel. Jesus waarsku ons dat hierdie manier van dink naïef en kortsigtig is. Onreg is ’n vrug van die kwaad en het nie net eksterne wortels nie – die oorsaak van onreg is te vinde in die hart van die mens waar die saad lê van ons misterieuse medepligtigheid aan die kwaad. Met bitterheid verkondig die psalmdigter: “Ek is inderdaad skuldig gebore, want in sonde het my moeder my ontvang” (Ps. 51: 7). Die mens is inderdaad verswak deur die diep wonde wat hy dra. Dié wonde belemmer sy vermoë om werklik in gemeenskap met ander te lewe. Van nature is die mens bereid om in vryheid met ander te deel, maar daar is iets in sy wese wat hom die heeltyd na benede trek en maak dat hy homself bo en teen ander verhef. Dit is egoïsme, die gevolg van die erfsonde. Adam en Eva is deur die leuens van Satan mislei. Deur die misterieuse vrug hul eie te maak het hulle God se gebod oortree. Daarmee het hulle die logika van vertroue in die Liefde vervang deur die logika van agterdog en kompetisie, en die logika van ontvang en vertrouvolle verwagtingvan die Ander deur die begerige gryp na dinge en selfgenoegsaamheid (vgl. Gen. 3: 1-6). As gevolg daarvan ervaar die mens ’n gevoel van onrus en onsekerheid. Hoe kan die mens hom bevry van dié egoïstiese neigings en homself oopstel vir die liefde?

Geregtigheid en sedaqah

In die hart van die wysheid van Israel vind ons ’n diep band tussen geloof in God, Hy wat “die geringes uit die stof op rig en die behoeftiges van die mishoop af verhef” (Ps. 113: 7), en geregtigheid teenoor ons naaste. Die Hebreeuse woord wat geregtigheid aandui is sedeqah. Dit is ’n baie goeie woord, wat aan die een kant Israel se volle aanvaarding van God se Wil aandui en aan die kant gelykheid in die verhouding teenoor die naaste (vgl. Ex. 20: 12-17), veral met die armes, vreemdelinge, weeskinders en weduwees (vgl. Deut. 10: 18-19). Dié twee betekenisse is ten nouste met mekaar verbind, want vir die Israeliet staan die versorging van die armes gelyk aan dit wat God toekom, Hy wat medelye het met die ellende van sy volk. Dit was nie toevallig dat God die tafels van die Wet aan Moses op die berg Sinai toevertrou het nadat die volk deur die Rooi See gekom nie. Om te luister na die Wet veronderstel geloof in God wat die noodkrete van sy volk gehoor het en hulle uit die mag van die Egiptenaars bevry het (vgl. Ex. 3: 8). God luister na die geroep van die armes en vra van sy kant af dat daar na Hom geluister moet word. Hy vra om geregtigheid teenoor die arme (vgl. Sir. 4: 4-5. 8-9), die vreemdeling (vgl. Ex. 22: 20), die slaaf (vgl. Deut. 15: 12-18). Om regverdig te kan wees, is dit dus nodig om die illusie van selfgenoegsaamheid op te gee, dié diepgewortelde houding dat ons net vir onsself moet lewe – dit is hieruit dat onreg voortkom. Wat ons nodig het, is dus ’n diepergaande ‘exodus’ as die een wat God vir Moses-hulle bewerkstellig het, ’n bevryding van die hart – iets wat die Wet alleen nie by magte is om te verwerklik nie. Kan ’n mens dan nog enige hoop op geregtigheid koester?

Christus, die geregtigheid van God

Die verkondiging van die Blye Boodskap beantwoord die mens se dors na geregtigheid ten volle. Die heilige Paulus het dit in sy brief aan die Romeine bevestig: “Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo want daar is geen onderskeid nie; want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as ’n versoening deur die geloof om sy geregtigheid te bewys...” (Rom. 3: 21-25).

Maar wat is die geregtigheid van Christus? Dit is in die eerste plek die geregtigheid wat voortkom uit die genade. Dit is nie die mens wat die verlosser is nie – die mens kan nie homself of iemand anders genees nie. Die feit dat die ‘versoening’ voortkom uit die ‘bloed’ van Christus, beteken dat dit nie die offers van die mens is wat hom van die las van sy sondes bevry nie, maar die liefdedaad van God wat hom bevry. God gee Homself tot die uiterste toe, selfs sover dat God die ‘vloek’ wat vir die mens bestem is op Homself neem om die ‘seëning’ wat God toekom aan die mens te gee (vgl. Gal. 3: 13-14). Miskien is daar mense wat hier sou protesteer en sê: Watter soort regverdigheid is dit waar die regverdige vir die skuldige sterf en die skuldige die seëning kry wat vir die regverdige bestem was? Beteken dit dan nie dat elkeen die teendeel ontvang van dit wat hom eintlik toekom nie? Feit is dat ons hierin die goddelike geregtigheid ontdek, wat ten diepste verskil van menslike geregtigheid. God het vir ons, in sy Seun, die prys betaal – ’n prys wat buitensporig hoog is. Gekonfronteer met die geregtigheid van die Kruis kan die mens in opstand kom, want daarmee word dit duidelik dat die mens nie in homself volledig is nie – die mens het ’n Ander een nodig om ten volle homself te kan wees. Om ’n mens tot Christus te bekeer, om in die Evangelie te glo, beteken om uiteindelik van dié illusie van selfgenoegsaamheid ontslae te raak – dit beteken dat jy jou eie behoefte aan die Ander een, aan God, kan ontdek en aanvaar. Ons behoefte aan mekaar en aan God maak dit duidelik waarom dit vir ons so noodsaaklik is om sy vergifnis en vriendskap te ontdek.

Dan begin ons begryp dat geloof geheel en al nie so natuurlik, gemaklik en vanselfsprekend is nie. ’n Mens het nederigheid nodig om te aanvaar dat iemand anders my van ‘myself’ bevry en my ‘gratis’ Homself in ruil daarvoor gee. Dit is wat in die sakrament van Versoening en in die Eucharistie gebeur. Danksy Christus se handeling kan ons ’n groter geregtigheid, dié van die liefde, binnegaan (vgl. Rom. 13: 8-10). In hierdie geregtigheid ervaar ons onself meer as skuldenaars as skuldeisers omdat ons soveel meer ontvang as wat ons ooit kon verwag het. Versterk deur hierdie ervaring kan ’n Christen voortgaan met die opbou van ’n regverdige samelewing, waarin elkeen dit kan ontvang wat noodsaaklik om ’n menswaardige lewe te lei.. Op hierdie manier blaas die liefde nuwe lewe in die geregtigheid.

Geliefde broers en susters, die Vastyd bereik sy hoogtepunt in die Paastriduum, waarin ons jaarliks God se geregtigheid vier. Dié geregtigheid omvat die volheid van naasteliefde, van gawe en van redding. Mag hierdie tyd van boetedoening vir elke Christen ’n tyd van waaragtige bekering en intieme kennis van die misterie van Christus word, Hy wat gekom het om alle geregtigheid te vervul. Met hierdie wense gee ek u almal van harte my Apostoliese Seën.

Die Vatikaanstad
Benedictus PP XVI